RUFUS BOTHA
Wanneer Bloemfontein Courant vát, vat hy ráák. Nóg ‘n raakvat was toe Courant besluit het om deel te wees van die fietsryspan wat vanjaar op nasionale én internasionale vlak sy naam, die Aerocare Courant-fietsryspan, gestand gedoen het.
Dié span se bobaasfietsryers in padwedlope en baanfietsry bestaan grotendeels uit jongelinge wat hulle nog op die skoolbanke in die Rosestad bevind. Hulle het ‘n ongelooflike jaar van prestasies agter die blad.
Aerocare Courant se speke het behoorlik gesing op die Afrika-vasteland en dié ysters het vanjaar met nie minder nie as vier Afrika-kampioenskaptitels teruggekeer Bloemfontein toe.
Waylin Young het drie keer die hoogste trappie van die podium by die genoemde kampioenskap bestyg toe hy die individuele agtervolging, spanagtervolging en puntewedren sy eie gemaak het. Sy spanmaat, Damean Oosthuizen, het in die spanagtervolging ook goud gebuit. Dit was nie die einde van Oosthuizen se silwerware by genoemde Afrika-byeenkoms nie. Hy het silwer ingeoes in wat in fietsryterme bekendstaan as die scratch-wedren en die bronsmedalje bygevoeg in die tydtoets-wedren.
‘n Onderskeiding wat jy nie aldag sien nie, het die span te beurt geval toe vier ryers van die klub, Young, Oosthuizen, Raymond van der Walt en Eckhard Binding, in 2015 gekies is om Suid-Afrika in baanfietsry te verteenwoordig.
Wat aan dié onderskeiding soveel meer aansien verleen, is dat daar nie ‘n fietsrybaan naby Bloemfontein is waar die manne hul fietsryvernuf tot op die hoogste vlak kan beoefen nie. Hulle moet aanpas en hul vaart op die pad slyp.
Young het Suid-Afrika ook in Februarie op die Afrika-padwedrenkampioenskap verteenwoordig en sy veelsydigheid onderstreep toe hy die Suid-Afrikaanse baantitel in die puntewedren agter sy naam geskryf het.
Oosthuizen verower in Februarie die silwermedalje by die Suid-Afrikaanse padwedrenkampioenskap.
Aerocare Bloemfontein Courant se jaers het vanjaar reeds 28 oorwinnings behaal, waarvan Oosthuizen nie minder nie as tien sy eie gemaak het. Binding het agt gewen en Young was kort op sy hakke toe hy ses keer eerste oor die eindstreep gejaag het. Michael Pretorius het hom ook deeglik laat geld en vier keer oorwinning gesmaak.
Aerocare Courant het tot nou toe ook 47 podiumplekke (tweede en derde plekke) losgejaag. Oosthuizen het weer eens gewys van watter stoffasie hy gemaak is en nóg 20 keer op die podium verskyn. Let wel, dit sluit sy tien oorwinnings uit.
Binding het egter die meeste gemaai in tweede en derde plekke. Hy was 21 keer naaswenner of bronsmedaljewenner. Pretorius was vyf keer tweede of derde terwyl Young eenkeer tweede was.
Die span het slegs by twee van die 2015-Junior Classic-padwedrenne nie ‘n oorwinning behaal nie, maar die kitaar geslaan by die Junior Classic-wedrenne by Carnival City, Lost City, Dome, Dome 2 en Amashova.