MARICELLE BOTHA
Die tragiese verhaal van die Bloemfonteiners Pierre en Yolandé Korkie wat op 27 Mei 2013 in die stad Taiz in die suidooste van Jemen deur ‘n gewelddadige bende ontvoer is, het die wêreld aangegeryp. Soos talle ander Bloemfonteiners het die bekroonde kunstenaar Pauline Gutter ook die verloop van die Korkies se verhaal in die media dopgehou en het dit haar geweldig geraak.
Sy was in daardie stadium in die proses om ‘n werk vir ‘n uitstalling van Die Burger wat sy 100ste bestaansjaar vier, te werk en die Korkies se verhaal waaroor wyd in die media geskryf is, het keer op keer na haar teruggekom.
Sy vertel sy was op die uitkyk na ‘n nuuswaardig tema, maar het ook iets gesoek wat vir haar persoonlik van belang is. Iets naby haar. “Ek het toevalling die foto wat Sabrina Dean op Korkie se begrafnis in Desember geneem het op die voorblad (18/12/2014) van Bloemfontein Courant gesien. Die foto was van die kisdraers en die een Grey-seun het onmiddellik my aandag getrek.”
“Wat my van die begin aangegryp het van die begrafnis was Grey-kollege se teenwoordigheid – in so ‘n mate dat dit byna ‘n Grey-aangeleentheid geraak het. Daarmee saam het die voortdurende ondersteuning van Bloemfonteiners sedert die Korkies se aanhouding in Jemen, die onderhandelinge en om Pierre se liggaam terug in die stad te kry, my fassineer,” vertel Gutter.
Sy het Dean, in daadie stadium senior joernalis vir Bloemfontein Courant, gekontak en gevra of sy die foto aan haar beskikbaar sou stel vir die skep van ‘n portret. “Sabrina was só behulpsaam dat ek oor ‘n tydperk met ‘n hele paar van haar foto’s weg is.”
Die portret van die seun, getiteld Collateral Damage, is toe geskep vir die opkomende uitstalling en is in April op die Suidoosterfees in ‘n versameluitstalling deur van die land se grootste kunstenaars tentoongestel. Na die fees het die uitstalling na Media 24 se gebou in Herengracht, Kaapstad geskuif waar dit tans nog te sien is.
“Ek woon in Bloemfontein, waar Pierre vir 23 jaar by Grey-kollege skoolgehou het. Ek is diep geraak toe hy slegs ‘n dag voor sy vrylating vermoor is. Collateral Damage is my reaksie op die tragiese dood van ‘n etiese, passievolle opvoeder wat toegewyd was aan die opvoeding van minderbevoorregte kinders in Yemen. Collateral damage is ‘n bepaald Amerikaanse term wat verwys na onskuldige omstanders wat moes sterf sodat ‘n doel bereik kon word. Ek wonder of Amerika se spesiale magte bewus was van onderhandelings vir Korkie se vrylating. Het hulle enigsins omgegee of wou hulle ten alle koste een van hul eie mense red? Die skildery is ‘n onkonvensionele portret van ‘n Grey-kollegeleerling wat Korkie se kis by die begrafnis help dra het,” gesels Gutter oor die spesifieke werk.
Twee ander protrette het later uit dieselfde tema gevolg. Die een is van Grey se voormalige skoolhoof Johan Volsteedt en die ander is van die Amerikaanse ambassadeur Patrick Gaspard, albei afgeneem tydens ‘n toespraak op die begrafnis.
Dean vertel dat sy van Gutter bewus was, maar heel verstom was toe sy haar kontak en vra of sy haar foto’s kon gebruik vir ‘n werk wat sy skep. “As joernalis en fotograaf is ek altyd besig om met mense te redeneer oor die kunswaarde van ‘n nuusfoto en hiermee het Pauline dit bevestig. Aanvanklik het ek gedink dat dit ‘n enkelskildery van die kisdraer sou wees en ek was verras toe ek vandag by haar ateljee instap en hier massiewe reeks werke sien. Ek voel besonders geërd. Dit is ongelooflik dat ‘n bekroonde kunstenaar sou Pauline soiets in my werk kon raaksien.”
Collateral Damage sal in September vanjaar saam met die ander werke deel vorm van Gutter se Absa L`Atelier-uitstalling in die ABSA-galery in Johannesburg. Die uitstalling sal in Maart aanstaande jaar in die Johannes Stegmann-galery op die Universiteit van die Vrystaat besigtig kan word.