Welkom by die heel eerste uitgawe van jou splinternuwe Bloemfontein Courant!
Bloemfontein Courant het in die ses jaar van sy bestaan gegroei tot ‘n publikasie wat tans meer as 60% van die Rosestad se markaandeel besit. Dit is ‘n produk wat lesers elke Donderdag op die hoogte bring van die nuutste en varsste nuus uit eie bodem.
Omdat Bloemfontein Courant sy rol in Bloemfonteiners se daaglikse lewe baie ernstig opneem, is ons voortdurend besig om die koerant by sy lojale lesers te laat aanpas en die beste vir hulle te gee. Juis hieroor het ons onlangs, ná ‘n bietjie marknavorsing, besluit om die korporatiewe identiteit aan te pas. Met die geweldige groei wat ons die afgelope paar jaar ervaar het, is dit tyd om die pienk babaskoene uit te skop en te wys dat die publikasie nou in stewige stewels klim en die pad saam sy lesers nog vir jare gaan stap. Verder pas die nuwe identiteit ook gemaklik in by die moedermaatskappy, Central Media Group, waaronder die sake-eenhede OFM, Get It Bloemfontein, TeenMag, Get It Campus, Agri Eco, Digital Platforms, Redstar en Central Outdoor val.
Oor die afgelope paar jaar het Courant ook ‘n paar innoverende projekte aan lesers gebring.
Eers is die Autodealer aan motorentoesiaste gebring, daarna is die gewilde Best of Bloemfontein-leserskompetisie begin (wat ons grootste verwagtinge oortref het) en onlangs het Property Guide die lig gesien. Die huisgids het sy ontstaan te danke aan die behoefte by huiskopers en –verkopers om ‘n duidelike prentjie van die aanbod in die huismark te sien. ‘n Foto-belaaide huisgids met basiese inligting oor die eiendom is die nuwe styl wat met ope arms deur lesers aanvaar word. Courant span ook sy vlerke en versprei al op sowat 30 plattelandse dorpe rondom Bloemfontein.
Met ‘n drukoplaag van 42 000 en ‘n geraamde lesertal van meer as 100 000, kan jy dit nie bekostig om nie deel te wees van Bloemfontein Courant se groei nie. As mense wil saampraat oor die nuus wat saakmaak, is die beste beginpunt – Bloemfontein Courant.
Ons sien uit daarna om die pad saam met elke leser, adverteerder en vennoot te stap. Mag die toekoms die verlede se sukses net nóg meer oortref!
Groete
Maricelle
Redakteur: Bloemfontein Courant