Dit is vandag met groot trots dat vir ons jou as leser ‘n blik op ons nuwe tuiste gee. Diegene wat in die noorde van die stad woon, is dalk reeds bewus van Bloemfontein Courant se onlangse intrek by Central Media Park – ‘n pragtige, moderne gebou net agter Northridge Mall.
Dit is van hier waar ons voortaan net die beste plaaslike nuus aan jou sal bring. Met die nuutste toerusting en ruimte beloof Courant om lesers en adverteerders nóg meer te bied. In ‘n tydperk waar die media soms swaarkry, kan die sukses van hierdie maatskappy beslis toegeskryf word aan die enorme groei wat ons moedermaatskappy, Central Media Group (CMG), oor die laaste paar jaar getoon het.
Ons nuwe kantore is gehuisves in Central Media Park, ‘n multimediafasiliteit wat ontwikkel is deur CMG in die nuwe Wild Olive Estate-sakegebied.
Volgens Gary Stroebel, uitvoerende hoof van CMG, weerspieël die nuwe gebou die groep se toegewyde benadering tot groei binne ‘n spesialisopset, spesifiek ontwerp vir elke handelsmerk en departement binne CMG. Verskeie kundiges was regdeur die ontwerpfase nou betrokke by die uitleg en aankoop van toerusting vir die nuwe ruimte. CMG bestaan tans uit die radiostasie OFM, Mahareng Publishing, Digital Platforms – ‘n digitale en webontwerpmaatskappy – en die promosiemaatskappy Redstar. Die nuutse toevoeging tot die groep is Central Outdoor, wat straatpaal-advertensies, ID-ligte en advertensieborde vir buitelugblootstelling in hoofsaaklik die Vrystaat, Noord-Kaap, Noordwes en die Vaaldriehoek bied.
Die gebou is verlede week amptelik geopen en kliënte het sedertdien die geleentheid gehad om te kom inloer en eerstehands te sien hoe hierdie maatskappy se wiele draai. Een van die talle interessanthede van ons nuwe gebou is dat dit nie slegs metafories op historiese fondasie gebou is nie. Tydens die fondasielegging het van die groep se direkteure verskeie artikels soos ou publikasies, gedateerde toerusting, foto’s, asook ‘n lys name van huidige werknemers in die fondasie begrawe.
Besoekers aan Central Media Park sal ook die pragtigste, kreatiewe muurpapier, relevant tot elke afdeling, sien. Dít is persoonlik vir elke afdeling ontwerp deur Courant se eie grafiese ontwerpers. Daar is werklik baie min wat hierdie kreatiewe span nie kan doen nie.
Volgens Nick Efstathiou, OFM se hoofbestuurder, is almal baie opgewonde oor die nuwe gebou en verteenwoordig dit ‘n groot mylpaal in die bestaan van veral OFM, wat aanvanklik gelei het tot die multimedia CMG. “Ons het gegroei van ‘n klein radiostasie met ses permanente personeellede tot ‘n suksesvolle maatskappy wat vandag meer as 15 verskillende handelsmerke het. CMG het vandag 135 werknemers. Die nuwe gebou verteenwoordig ‘n nuwe hoofstuk in ons geskiedenis.”
Ons as Bloemfontein Courant kan nie wag om te sien watter nuwe en opwindende uitdagings hierdie nuwe era sal bring nie en hoop om nog ‘n lang pad met elkeen van ons lesers te stap.
Baie dankie vir elke getroue leser en adverteerder se ondersteuning. Julle is vir ons spesiaal. – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.za