Van die gaste by Heidedaller van die Jaar was van links, agter: Gustav Wilson, SA Man van die Jaar, Jeanine Nothnagel, ‘n stigterslid van Heidedaller van die Jaar, prof. Francis Petersen, hoofspreker, Bertie Smith, streekhoof van Absa, Hubert Barlow, ‘n stigterslid van Heidedaller van die Jaar, Brenda Buys, voorsitter van die Heidedaller van die Jaar-komitee, en Pieter Delport, stigter van Heidedaller van die Jaar. Voor is Lynette Francis, seremoniemeester, en Christel Basson, hoofbestuurder van Mahareng, uitgewers van Bloemfontein Courant. FOTO’S: PIERCE VAN HEERDEN
Die gewilde Heidedaller van die Jaar-kompetisie is hierdie jaar vir die tiende keer aangebied en op Saterdag 18 November is die wenners in die verskillende kategorieë aangekondig tydens ‘n glansgeleentheid in die atrium van die Hotelskool op die kampus van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie.
Dit was ‘n deftige affêre, met bekende radio-omroeper, Lynette Francis, en prof. Francis Petersen, rektor en visekanselier van die Vrystaatse Universiteit, wat ekstra swier aan die aand verleen het.
Petersen het in sy toespraak genoem dat die kompetisie bewys dat iemand iets reg doen. “Net om te sien hoe vol die tafels is, is klaar ‘n bewys van ‘n suksesvolle aand.”
Sy toespraak was gemik op die paralelle tussen die UV en die gemeenskap van Heidedal. “Die gemeenskap van Heidedal is ook ‘n instituut. Die gemeenskap is baie belangrik vir die stad van Bloemfontein. Altwee bestaan uit individue en altwee dra by tot die ontwikkeling van ‘n individu, en so ook tot die stad. Altwee die instansies het die vermoë om ‘n impak op die gemeenskap te maak. Moet nooit vergeet waar jy vandaan kom nie,” het Petersen gesê.
Adv. Ruwaidah Henney was die wenner van die hoofkategorie, Heidedaller van die Jaar 2017. “Ek praat uit my hart uit. Dankie aan almal wat vir my gestem het. Ek voel baie sterk oor die gemeenskap en sy mense. Opvoeding is vir my baie belangrik in ‘n kind se lewe. Ek is met baie geleenthede geseën en my werk is nou om seker te maak dat daar ook geleenthede aan ander gebied word. Ek glo in spanwerk; so kan ons vorentoe beweeg,” was haar woorde.

Die Heidedalse Vriend van die Jaar-trofee het gegaan aan Lize Pieterse, ‘n onderwyseres by Olympia Primêr. Sy was heel verbaas, maar toe sy eers begin praat, kon mens die opwinding op haar gesig sien. “Dit is vir my lekker om te weet daar is mense wat sien wat ons doen,” het sy gesê.

Die trofee vir die Instansie van die Jaar het aan Club10 Society gegaan. Basil Fillies, voorsitter van die klub, het genoem dat albei finaliste, Club10 Society en Men on the Move, ewe veel vir die Heidedal gemeenskap doen en gee. “Laat ek eers my Heidedal-asem terug kry. Baie dankie aan die Almagtige God vir die krag en visie om in Heidedal te doen wat ons kan. Ek maak ‘n belofte dat dit nie die laaste is wat julle van ons gaan sien nie, dit is net ‘n aansporing vir ons op die pad vorentoe. Men on the Move, julle is belis nie die verloorders vanaand nie, maar julle is saam met ons die wenners,” het Fillies gesê.

Euodia Naanyane-Bouwer is aangewys as Jong Entrepreneur van die Jaar. “Dit is lekker om geëer te word vir die werk wat jy doen, maar dit is nog meer van ‘n belonging om te weet die werk word deur jou eie gemeenskap moontlik gemaak,” het sy gesê.

Die aand is geopen met gewyde liedjies deur Danielle Louw en die Committed to Christ-koor (C2C), terwyl Samuel Boesak die skriflesing en gebed behartig het. Die aand is verder ingekleur met sangitems van Levert Solomons en dansitems deur The House of Dirty Shakers.
Lynette Francis se woorde, “Veels geluk, Heidedaller. Mag die Heidedaller van die Jaar nóg 10 jaar ouer word, sommer ‘n 100 jaar oud,” was ‘n bevestiging van hoe almal wat die glansgeleentheid bygewoon het, daaroor gevoel het.

JERETHA OOSTHUIZEN
jeretha@mahareng.co.za
Source: http://www.bloemfonteincourant.co.za/10de-heidedaller-n-swierige-affere/